Waarom
Ek is Tienie vd Walt, ‘n afgetreede snr. lektor in Filosofie, vroeër ‘n predikant. Hierdie artikels is meestal in ‘n rubriek in Vaalweekblad, streekskoerant van die Vaaldriehoek, gepubliseer. Die titel van hierdie blog (Kritiese Christenskap) gee iets weer van my doel met hierdie artikels.
M.i. is die kern van Christenskap ons liefde vir God en ons naaste (1 Joh. 4:21), en die begeerte om ons ganse lewe in gehoorsaamheid aan Hom te leef (vgl. 1 Kor. 10:31). Daar staan nie verniet in 1 Joh. 5:2-3 die volgende nie: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar…” Liefde en gehoorsaamheid is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Christenskap word dus m.i. gekenmerk deur liefde-gehoorsaamheid.
Ons liefde-gehoorsaamheid word egter konstant bedreig deur die versoekinge van die wêreld en ons eie sondige natuur (vgl. Paulus se innerlike stryd in Rom. 7). Enigiets is ‘n versoeking as dit ons tot sondige woorde en dade wil verlei, of tot die aanvaarding van dwaalleer. Sondige optrede en valse leerstellings bedreig ons Christenskap, want dit tas ons liefde-gehoorsaamheid aan.
As ons Christenskap vir ons kosbaar is, moet ons alles in die stryd werp om die versoekinge van ongehoorsaamheid en dwaalleer te beveg. Een van die belangrikste maniere om dít te doen, is deur alles waarmee ons te doen kry, krities te bekyk (te beoordeel). Kritiese Christenskap is wanneer Christene alle dinge beoordeel, die goeie behou en die sondige vermy (1 Tes. 5:21-22). Een van die Griekse woorde wat in die Nuwe Testament vir “beoordeel” gebruik word, is “krino” (vgl. Luk. 12:57; Joh. 7:24; 1 Kor. 10:15). Ons woorde “kritiek” word van hierdie woord afgelei. Die oorspronklike betekenis van “krino” is om te sif. As mens bv. grond sif, maak jy skeiding tussen klippe en die fyner, bruikbare grond. Om iets krities te bekyk, beteken dus om te sif tussen goed en kwaad, sonde en gehoorsaaamheid, reg en verkeerd. Die belangrikheid van kritiese beoordeling word beklemtoon deur o.a. die volgende Skrifgedeeltes: 1 Kor. 2:14, 15; 12:10; Mat. 16:1-3; Fil. 1:9-10; Rom. 2:17-18; 12:2; Ef. 5:10-11).
As ons nie krities kan omgaan met TV, internet, videos, tydskrifte, preke, boeke, ens. nie, verloor ons ons Christenskap. Onkritiese mense word heen en weer gedryf deur elke wind van lering (vgl. Ef. 4:14), hulle word as buit weggevoer deur die onchristelike denkrigtings van die tyd (vgl. Kol. 2:8). Kritiese Christene is “siftende” Christene wat alles wat hulle hoor, sien en lees, sif met die sif van God se Woord. Hierdie artikels is dus ‘n poging om ons geloofs-kritiese vermoë te help slyp, terwille van die behoud en verdieping van ons liefde-gehoorsaamheid. “Kritiese Christenskap” is ‘n poging tot gehoorsaamheid aan God se opdrag (1 Tes. 5:21-22) : BEOORDEEL ALLE DINGE, behou dan die goeie en vermy die kwade.