Beoordeling is verwerp en aanvaar

Wie veroordeel, lewer kritiek wat voortvloei uit veragting vir ander, en ‘n oorskatting van homself/ haarself. Beoordeling is egter kritiek wat nie gemik is teen die sondaar nie, maar teen die sonde, omdat dit kom uit ‘n hart wat omgee. Daar is egter nóg ‘n kenmerk van veroordeling wat belangrik is: Veroordelende kritiek is negatief, want daar is geen waardering vir die goeie en positiewe in iemand se woorde en optrede nie. ‘n Hart wat vol veragting is, laat mens slegs toe om die verkeerde in iemand anders se optrede raak te sien. Let maar op hoe mense iemand wat iets verkeerd gedoen of gesê het, uitmekaar trek. Alles is verkeerd, slegs die negatiewe word raakgesien. Die persoon wat gekritiseer word, kan niks goeds doen nie. As ek met iemand se standpunt verskil, laat my verwaandheid my nie toe om die goeie in sy argument raak te sien nie. Die veragting in my hart, vereis dat alles wat hy sê, veroordeel moet word. Daar is geen ruimte vir die raaksien van iets positiefs nie.

Daarteenoor is beoordeling anders. Omdat beoordeling nie teen die persoon gerig is nie, maar teen valse woorde en verkeerde dade, is daar ruimte vir die afwys van wat verkeerd is, én vir die erkenning van wat goed is. Omdat beoordeling voortvloei uit ‘n hart wat omgee, is daar waardering vir die insig wat ander se woorde weerspieël. Beoordeling is kritiek wat die valse en verkeerde ontmasker, maar die ware en goeie raaksien. Veroordeling is: blote verwerping. Beoordeling is: verwerping en aanvaarding! 1 Tes. 5:21-22 bekemtoon hierdie twee fasette van beoordeling baie duidelik: “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad” (Ef.5:10-11).

Tienie van der Walt
(art371)

Leave a Reply

This entry was posted on Sunday, May 9th, 2010 at 8:07 pm and is filed under Kritiese Denke. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.