Veroordeel: Minag ander, oorskat self

Veroordelende woorde kom gewoonlik uit ‘n liefdelose hart. ‘n Liefdelose hart bepaal ons siening van onsself en van ander. Liefdeloosheid veroorsaak dat ons ander mense verag, op hulle neersien en daarom probeer om hulle met ons kritiek te veroordeel, te verkleineer, af te kraak en te beledig. Veroordeling is gemik teen die persoon. Veroordeling is nie ‘n hand wat uitgesteek word om te help nie, dit is ‘n vuis wat wil platslaan! Dit is nie ‘n geveg teen die sonde nie, maar teen die sondaar. In Romeine 14:10-12 vermaan Paulus die gemeente oor die gewoonte om ander te verag en te veroordeel. Jakobus 4:11-12 vermaan die lesers om nie van mekaar kwaad te praat en te veroordeel nie. In albei gevalle word veroordelende woorde verbind met ‘n poging om die ander persoon te benadeel.

Liefdeloosheid veroorsaak nie net veragting van ander nie, maar dikwels ook ‘n groot verwaandheid, en as gevolg daarvan ‘n onvermoë om ons eie sondes en gebreke raak te sien. Ander is altyd verkeerd, maar ons is altyd reg. Ander mense word genadeloos uitmekaargetrek, maar onsself het geen foute en tekortkominge nie. Dit is dan ook die ander kenmerk wat Christus in die gelykenis van die Fariseër en tollenaar uitwys, nl. dat hierdie veroordelende mense “op hulleself vertrou dat hulle regvedig is” (Luk. 18:9). Die Fariseër het duidelik vir God vertel watter sondes die tollenaar het, én hoe voortreflik hyself is. ‘n Veroordelende mens kan skerp kritiek lewer op ander, maar is nie daartoe in staat om selfkritiek toe te pas nie.

Hy of sy wat ander veroordeel, doen dit omdat hulle hulle naaste verag, hulle eie gebreke nie raaksien nie en hulle eie vermoëns oorskat.

Tienie van der Walt

(art370)

Leave a Reply

This entry was posted on Friday, October 23rd, 2009 at 7:30 am and is filed under Kritiese Denke. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.