Die gesindheid agter veroordeling

Die meeste van ons het al seerkry-ervarings van mense se veroordelende woorde gehad. Veroordeling het al baie gelowiges se wiele pap gemaak. Miskien is ‘n voorbeeld uit my jong dae ‘n goeie illustrasie hiervan.

 Ek was nog minder as ‘n jaar in die bediening, toe ‘n persoon my in die openbaar slegsê dat die see my nie kon afwas nie. Hy het kru oordele oor veral my preding uitgespreek, onder andere dat ek die gemeente vernietig met my swak preke. Hierdie veroordelende kritiek het my vir weke as’t ware teen die planke gehad het. Totdat een van ons lidmate, met slegs ‘n st. 6-sertifikaat, my kom besoek. Hy het van hierdie episode gehoor, maar wil hê dat ek myself een vraag moet afvra: Watter gesindheid weerspiëel hierdie kritiek? Indien dit getuig van die omgee-gesindheid van Christus, kan ek gerus daarna luister, want dit kan my help om nog beter diens in God se koninkryk te lewer. As die kritiek egter nie van hierdie Christus-gesindheid getuig nie, moet ek weet dat dit ‘n poging van die Duiwel is om ‘n struikelblok in die pad van my koninkryksdiens te plaas. Dan moet ek my nie daaraan steur nie, dit uit my gedagtes ban en ongestoord aangaan met my bediening. Hierdie wyse woorde het my genees van die gif van veroordeling, en bevry van die kettings van moedeloosheid.

 Die belangrike punt wat hierdie persoon gemaak het, is: Veroordelende woorde spoel uit ‘n liefdelose hart en die doel hiervan is om iemand af te breek. Rom. 14:10 gee iets hiervan weer: “Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder?” (vgl. Luk 18:9 en Jak. 4:11 en 12).

 Veroordelende woorde word maklik uitgeken aan die gesindheid waarmee dit gesê word.

 Tienie van der Walt

 (art369)

Leave a Reply

This entry was posted on Thursday, April 16th, 2009 at 4:30 pm and is filed under Kritiese Denke, Uncategorized. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.