Doen moeite om te verstaan!

Gedurende hierdie nuwe jaar wat voorlê, mag ons ander se woorde en dade beoordeel, want God gee ons die reg daartoe (vgl. Ef 5:10). Ons moet ander se sieninge en optredes evalueer, want God beveel ons om dit te doen (1 Tes 5:21); Luk 12:46 en 47). Sonder kritiese beoordeling van alles waarmee ons te doen kry, gaan ons ‘n donker jaar tegemoed.

 Die Bybel keur egter nie alle soorte kritiek goed nie. Veroordeling (oordeel) is ‘n sondige vorm van kritiek: “…julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie” (Luk 6:36 en 37). Om te beoordeel is ons plig, om te veroordeel is sonde.

 Die volgende vergelykings kan ons help om te onderskei tussen beoordeling en veroordeling: Beoordeling is gerig teen die sonde, veroordeling teen die sondaar;  beoordeling sien ook die positiewe raak in dit wat beoordeel word, maar veroordeling neig om totaal afwysend te wees teenoor dit wat veroordeel word;  beoordeling word gedoen vanuit die agtergrond van selfbeoordeling, selfkritiek, terwyl veroordeling geneig is om blind te wees vir eie tekortkominge;  beoordeling groei uit omgee vir die persoon wat gekritiseer word, terwyl veroordeling gewoonlik gebore word uit veragting van die ander persoon;  beoordeling is gevoelig vir die regverdigheid van eie kritiek, terwyl veroordeling bewustelik van onregverdige kritiek gebruik maak;  beoordeling laat mens se hart en gedagtes oop vir sinvolle gesprek, terwyl veroordeling sinvolle meningswisseling onmoontlik maak.

 Ons moet moeite doen om te probeer verstaan wat die verskil tussen gehoorsame beoordeling en sondige veroordeling is.

 Tienie van der Walt

(art368)

Leave a Reply

This entry was posted on Monday, March 16th, 2009 at 8:58 pm and is filed under Kritiese Denke. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.